Skip to main content

Goeiedag! Die KIX span groet jou met groot vreugde!

Ons is nou lank genoeg in inperking om te weet dat elke week anders is. Party weke sien jy kans vir enige ding en pak nuwe avonture aan: leer ‘n nuwe vaardigheid, probeer ‘n nuwe resep, oefenprogram of familiegewoonte. Die week daarna hoop die strykwerk en skottelgoed op en kort jy ‘n nuwe dieet. Gelukkig kan ons in hierdie tyd ook mekaar help deur te sê: jy hoef nie elke dag ‘n reus te oorwin nie! Selfs Dawid het op tye weggekruip vir sy vyande eerder as om hulle aan te vat! Ons weet nie hoe jy hierdie week voel nie, maar ons wil sê: ons weet, ons deurleef dit ook! Dit is okay om nie altyd okay te wees nie.

Ons deel graag hierdie “kwartaal” se KIX materiaal met jou. Deel dit gerus met jou groepleiers en gesinne.  Die voordeel van ons KIX materiaal is dat dit met min moeite en minimale aanpassing sommer deur ouers in gesinne ook gebruik kan word.

Ons begin sommer ons nuusbrief met ‘n toerusting-video wat vir groepleiers en ouers verduidelik hoe die elemente van ‘n KIX ontmoeting werk.
Geniet dit!

Klik hierbo om na die video te kyk.
KIXPIRASIE
versorg jou KIX-leiers aanlyn

Klippe en vere

Vooraf:
  • Kom ooreen om jou leiers op ‘n spesifieke dag en tyd aanlyn te ontmoet via byvoorbeeld WhatsApp group call of Zoom
  • Vra hulle om ‘n klip, ‘n khoki en ‘n veer (of prentjie van ‘n veer) reg te hê
Byeenkoms:
Almal is ontwrig deur die lockdown. Gesels met mekaar oor die volgende:
  • Hoe gaan dit met jou?
  • Watter uitdagings dra jy swaar aan?
  • Wat steel jou tyd of jou vreugde?
  • Wat mis jy die meeste van KIX groepe?
Elkeen skryf nou ‘n woord/e op hulle klip neer wat hul aan hulle eie laste laat dink.
Hou die klip vas terwyl jy jou laste met God deel.
Lees nou Psalm 103:1-5 saam. Jul kan die lied ook sing as jul dit ken.
Deel met mekaar:
  • Watter beloftes en hoop gee hierdie gedeelte vir jou?
Neem nou ‘n veer in die hand as ‘n herinnering aan die belofte wat God vir ons gee dat Hy vir ons die krag van ‘n arend gee.
Bemoedig mekaar.
Sluit af met ‘n dankgebed.

SMARTKIX KWARTAAL 3

Met al die Vroeë Kind Ontwikkelingsentrums wat toe is en nou eers stelselmatig begin gereed maak om oop te maak, is die behoefte aan ondersteuning groter as ooit. Sodra al die SmartStart groepies en ander dagsorg ruimtes oopmaak, gaan hulle baie hulp nodig hê.

Daarom hou ons aan met ons SMARTKIX projek, en daag ons gesinne uit om juis nou die weggooigoed in hul huise te gebruik om oulike hulpmiddels bymekaar te sit om speelgroepies te help.

Kyk na die oulike idees in ons video wat een van ons KIX spanlede, Colleen van Eeden, in haar huis doen.

Klik hierbo om na die video te kyk.
Piketberg bly SMART

Piketberg se SmartKix projek het ontwikkel in ‘n SmartFood projek!

Dit sluit kos vir die liggaam sowel as kos vir die brein in – met handgemaakte domino’s!

Kyk gerus na hierdie storie van hoop op Facebook.

Onthou dat julle enige KIX nuus of stories vir ons kan stuur by [email protected]

Die nuwe DinkJeug App vir families is hier!

Dit bevat ‘n daaglikse podcast (potgooi) met ‘n huisgeloof oordenking wat families kan help om saam te gesels oor die Bybel, geloof en die lewe. Gesinne kan saam bid en die aktiwiteite doen om hul geloof en verhoudings te versterk.
Dit behoort so tussen 5 en 15 minute te neem.
Gesinne met voorskoolse kinders sou dit maklik self kon aanpas, deur byvoorbeeld die teks in ’n Kinderbybel op te soek.Die nuutste reeks is “Dissipels van Jesus” en sal families help om te gesels oor dissipelskap.

Die app is in die Apple iStore beskikbaar – klik hier.
Op Google Play is dit hier beskikbaar.

Hierdie is ’n baie bruikbare hulpmiddel, veral tydens inperking!
Deel dit gerus met ouers in julle gemeentes.

Dit is ons gebed dat julle ook in hierdie vreemde tye nie net frustrasies en vrese beleef nie, maar ook die vreugdes en wydheid van God se genade!
Mag julle altyd bewus wees van God se plan, Sy sorg en Sy leiding.
Vrede vir julle!Vriendelike groete
KIX SPANKONTAK ONS BY:
021 808 9050
[email protected]
Facebook: Kix Kinderbediening
www.kixkinders.co.za