Skip to main content

Lees die nuusbrief hier aanlyn.

Hiermee die 3de KIX nuusbrief van 2021!
Kan julle glo dat die seisoen al weer begin draai en dit elke oggend ‘n klein bietjie vroeër lig word?In hierdie uitgawe is ‘n spesiale KIXpirasie vir groepleiers oor die seisoene, ons vier oor ‘n maand lente met spesiale idees om ‘n voëltjie restaurant en ‘n hommelby badjie in jou tuin te maak. Ons is dankbaar om stories te kan deel van KIX-groepe wat steeds aan die gang is, en al die praktiese dinge waarmee hulle besig is.Kyk ook na ons terugvoer oor die 2de KIX Kiddipinkster wat ons beskikbaar gestel het. Ons is halfpad met ons kleuterKIX handleidings en dit sal einde van die jaar beskikbaar wees vir gebruik in vroeë ontwikkelingsentrums.Lekker lees!
KIXPIRASIE
versorg jou KIX-leiers

Seisoene

Dis tyd om weer “in te check” by jou KIX-groepleiers of vrywilligers. Gebruik die metafoor van seisoene om te hoor hoe dit met hulle gaan.

Hulpmiddels: Druk ‘n prent/foto uit van ‘n boom in 4 seisoene; of gebruik 4 items om die 4 seisoene voor te stel bv. blomme of saad (lente) sonhoed of sonbril (somer), droë blare of akkers (herfs) en warm mus of wolkouse (winter).

Lees Prediker 3: 1-13 (veral vers 11)
Gesels:

  • Wat is jou geliefkoosde seisoen en hoekom?
  • As jy jou lewe die afgelope tyd met ‘n seisoen kan vergelyk, watter een sal dit wees en hoekom? (Onthou dat mense verskillende ervarings van seisoene het – byvoorbeeld vir die een kan winter iets negatief wees, terwyl dit vir iemand anders weer iets positief kan voorstel.)
  • Lees weer vers 11 saam. Hoe help dit ons voorberei vir die volgende seisoen van ons lewe as ons onthou dat God ook ewig by ons is, in elke seisoen?

Laat elkeen vir een van die volgende bid:

  • Lente – Here, help ons om in nuwe tye ook nuut te dink, sodat ons kinders kan bereik met u liefde.
  • Somer – Here, gee dat ons u liefde sal deel sodat kinders u vreugde kan beleef.
  • Herfs – Here, help ons om voorbereid te wees en rus ons toe met u Gees vir ons dienswerk.
  • Winter – Here, waar ons of ander swaarkry, troos ons asseblief en help ons om mekaar se laste te dra.
Lentedag

Ons gaan tuin toe! Hier is idees vir ‘n voerbottel of -huisie vir voëls asook ‘n badjie vir bye.

Klik op die prent of laai die PDF hier af: KIX Lentedag 2021
NUUS

PIKETBERG
Kix in Piketberg laat weet: “Kix se SmartStart herwingedagte het gelei tot hierdie oulike versierde tee- en ander boksies.
Die leiers het 130 boksies oor amper ‘n jaar bymekaar gemaak om vir Moedersdag gereed te kry vir Huis AJ Liebenberg. In die proses was dit sommer Vadersdag ook.
Die binnekant is gevul met ‘n verskeidenheid van suiglekkers, ‘n paaseier en ‘n pakkie aartappelskyfies.
Dit was groot pret en lekker speel!”

Met die 2de kwartaal se afsluiting het hulle ook hierdie hoogtepunte met ons gedeel:

MALAWI

Op 12 Maart 2021 het oud-sendeling AnnaMarie de Klerk vir vyf weke na Malawi vertrek waar sy vir meer as veertig jaar in diens van die CCAP (Church in Central Africa Presbyterian) gestaan het.

Een van haar projekte was om 77 Bybels in Chichewa met groot sorg aan Bybelstudiegroepe, pasgebore babas in Malingunde Hospitaal en die Yoswa Skool op Nkhoma uit te deel. Sy was ook op besoek aan die KIX-skool wat sy destyds in 2012 geïnisieer het.
Lees die volledige artikel hier.

KENIA
In 2019 het KIX-groepe fondse ingesamel vir die Reformed Church in East Africa (RCEA).
Die RCEA is steeds besig met projekte wat hierdeur befonds is en hulle het onlangs weer vir ons nuus gestuur:As RCEA children’s department we are doing well and we thank God for care and protection.
Despite the pandemic restrictions which have affected the entire world, we have been doing children’s activities.
It humbles me the way God is working through children ministry.
May God be gracious to all.
Lees die volledige artikel hier.
KIX Kinderpinkster 2021

Deesdae is die woord WEGNEEM deel van ons alledaagse lewens: Wegneem-etes, wegneem kruideniersware, ens. Alles sodat ons veilig tuis kan bly. Ons het besef dat die woord “wegneem” eintlik ook deel van ons geestelike lewenswandel uitmaak. Jesus is op die wolke weggeneem na die hemel en die evangelie word na ander mense weggeneem sodat dit die hele wêreld kan bereik.Daarom het KIX vir Pinkster 2021 ‘n Wegneem Kinder-/Gesinspinksterreeks geskryf wat gemeentes as grootgroep, of gesinne by hulle huise kan gebruik. Dit was waarlik ‘n wonderlike avontuur met elke video en aktiwiteit wat ‘n verwagting vir “môre” gebring het. Baie dankie aan elkeen wat deel gehad het aan hierdie Kinderpinksterreeks. Baie dankie vir jul terugvoering en foto’s. Dit bly altyd vir ons kosbaar.

As KIX hoop ons om weer in die toekoms ‘n Kinderpinksterreeks te skryf wat julle elkeen gratis en verniet na julle bedieningsvelde en huise kan wegneem om saam te beleef, te getuig en te doen.

Hier onder is ‘n paar foto’s.

SmartKIX en kleuterKIX

 

Ons ondersteun SmartStart met ons projek vir 2020/2021 – SmartKIX.
SmartStart wil kinders van 3-4 jaar oud help om die nodige stimulasie te kry, maak nie saak waar hulle bly of hoeveel geld hul gesin het nie. Hulle help werklose vroue om ‘n SmartStart groepie te begin daar waar hulle bly, en met herwinbare hulpmiddels kinders te help leer en groei. SmartStart wil teen 2025 een miljoen kinders in bekostigbare speelgroepe help om te ontwikkel.Ons is nou halfpad met ons kleuterKIX handleidings en dit sal einde van die jaar beskikbaar wees vir gebruik in SmartStart groepe.
KIX MATERIAAL
REEKS 2: RIGTERS EN PROFETE

Die eerste drie boeke van hierdie reeks is hier op ons webwerf beskikbaar.
Hierdie lesse kan ook apart afgelaai word onder “Argief/Aparte lesse” op die werbwerf.
KIX VIDEO’S

Klik onder op die video om die storie van Elia en die Baälprofete te sien en volg ook ons speellys op YouTube.

Daar is ook ‘n video van Elisa en Naäman om hierdie kwartaal te gebruik – kyk dit hier.

TERUG SKOOL TOE
Gesels met kinders oor hoe hulle voel om weer met skool te begin en bid vir hulle.
Klik hier om die bladsy af te laai: Terug skool toe of klik op die prent hier onder.

My mense is siek, Jesus

Hoe gesels ons met ons kinders oor Covid-19 wanneer ons eie mense siek raak?

Kyk gerus die video langsaan en gebruik die gespreksvrae aan die einde van die video vir verder saam gesels en bid.

God hier by my – selfs te midde van Covid | Gr 4-7

Lockdown, ‘n pandemie, verandering en onsekerhede…weet beslis, God los jou nooit!

Mag ook hierdie seisoen waarbinne jy is, vir jou iets moois bring
en mag jy God se goedheid beleef!

Vriendelike groete
KIX SPAN