Teen hierdie tyd is almal al goed op dreef met Kix 2018 se ontmoetings: “Vreemde en Crazy stories in die Bybel”. Ons is dankbaar oor elke Kix-leier wat met die kinders werk in gemeentes, gemeenskappe, skole en nasorge. Ons hoor ook hoe Kix-groepe besig is om te woeker met die “Jesus vir Japan”-projek en ons hoor van kinders wat al in Japannees kan groet! Stuur gerus jul foto’s en video opnames vir ons om te deel.

Ons verwelkom Ronelle de Graaf as die nuwe sekretaresse in die Jeugkantoor. Skakel haar gerus vir enige navrae oor Kix-sake (e-pos: [email protected]; telefoon: 021 808 9050).

Opwindende nuus is dat die Kinderbedieningskonferensie om die draai is: 11 en 12 September 2018! Kix hou gewoonlik elke 4 jaar ‘n een-dag sinode waarheen alle Kix-leiers genooi word. Hierdie jaar hou ons ‘n groter twee-dag Kinderkonferensie waarheen ons ook alle ander kinderbedieningsleiers nooi. Dus word alle gemeenteleiers, predikante, kategete, ouers, oumas en oupas, onderwysers, jeugwerkers en almal wat met kinders werk, ook uitgenooi. Die konfe-rensie se tema is: “Toegerus Vir Die Toekoms”. Die dinamiese sprekers en praktiese werkswinkels sal oor ‘n verskeidenheid temas handel wat hierby aansluit. Kom leer hoe om tegnologie in te span, met ouers te werk en die nuwe geslag kinders (Generasie Y) beter te verstaan. Kom kry nuwe aanbiedingsidees en leer om kreatiewe vaardighede te gebruik. Kom koop hulpmiddels en kom gesels met ander mense en bedieninge wat met kinders in Suid-Afrika werk. Jy sal verseker toegerus wees vir die toekoms na hierdie heerlike twee dae! Die konferensie sal plaasvind in die noordelike voorstede van Kaapstad, maar die presiese plek en reëlings sal nog deurgegee word. Slaapplek en vervoer word deur deelnemers self gereël.

Ons sien daarna uit om jou en jou mede-Kix-leiers (en almal wat met kinders werk) daar te verwelkom!

Vrede en vreugde
Ds Anriëtte de Ridder