Ons weet nie hoe goed julle Sjona is nie, maar ons weet Piketberg se Kix is besig om teen snelle vaart hulle Sjona aan te leer. Die tweede kwartaal het pas begin toe ons ’n epos kry met die versoek vir nog Shona woorde. Piketberg het reeds so gewoeker dat hulle meer as net die 3 sinne kon “betaal”. Ons het ons Sjona-kenner gekontak en sy het nog ‘n paar sinne gestuur. Die nuwe sinne is:

Rava Bhaibheri namata zuva nezuvaLees jou Bybel en bid elke dag.

Mwari anondidaGod is lief vir my.

Mwari wakanakaGod is goed.

Jesu akatendekaJesus is getrou.

Ndinofamba naJesu – I walk with Jesus.

Kura pakutenda – Grow in faith.

Kura pakuziva Jesu – Grow in knowing Jesus.

Taura zvaJesu – Speak of Jesus!

Die Here voorsien altyd op die regte tyd. By ons vorige UK-vergadering het ons gewonder wat ons kan doen om ons projek weer ‘n bietjie momentum te gee. Voordat ons iets kon kry (of uitdink), daag ‘n oulike projekliedjie by ons op. Getrud van den Heever van NG Gemeente Boesmanland in Springbok het die liedjie geskryf en sommer die bladmusiek vir ons gestuur. Hulle was toe so gaaf om vir ons ‘n video op te neem waar hulle Kix-maats dit sing terwyl Getrud met die kitaar begelei. Hierdie video is verwerk en op ons webtuiste gelaai. Julle kan dit aflaai en almal behoort maklik te kan saamsing, praat en hande en vingers klap, want die woorde is ook op die video. (“Zim ABC wat die Woord gee.WMV”) Geniet dit en gebruik dit om weer ‘n bietjie momentum aan jul projekinsamelings te gee.

Ons het met Kix en die #Imagine-beweging net weer ontdek dat ons kinders en jeug positief is oor ons kerk en graag daar wil wees waar ons iets aanbied. Tog kan hulle uit hulle eie niks doen nie. Daar waar leiers entoesiasties is, gebeur die dinge. Ons kan regtig sien hoe sekere gemeentes net floreer en ons weet agter elke aan die brand bediening is daar volwassenes wat dit moontlik maak en hard werk! Hulle tyd is net so beperk en hulle moet ook maar diep gaan delf voor elke geleentheid, maar die vrug is duidelik.

’n Ou oom het eendag vir my gesê die beste ding wat jy vir jou kind kan gee is – blootstelling! Ek eer vandag elke Kix- en Kinderbondleier wat laer- en voorskoolse kinders blootstel aan die wonderlike ervaring van die Kinderbond en KIX. By die sinode van 2015 het ons weer gehoor hoe ECD (“early childhood development”) die antwoord op armoede in ons land is en ons het die geleentheid om deur KIX en die Kinderbond ECD-bediening te doen. Van die sprekers het selfs getuig hoe die Kinderkrans en Kinderbond hulle gevorm het.

Hou so vol en sterkte vir die derde kwartaal. Blootstelling is nie iets waarvoor iemand dadelik dankie sê nie. Tog na ’n tyd hoor jy hoe waardevol dit was.

Sterkte met jul kinderbedieninge!